In die nuus soos ander bronne dit kies...

 

     
Mail & Guardian 1 September
06
 
   
   



 

   
   
   
     
Republikein 24 Aug 06
 
   
   

   
   


Só moet ’n Orkez mos klink!

WAT is die geheim agter goeie rock?

Musiek wat jou poegaai slaan, en net so af en toe pamperlang.

En dis presies wat jy op Orkez se debuut uit laat verlede jaar, In opsomming, kan verwag. Let wel: Die “zzzz” is géén aanduiding dat jy dalk iewers gaan lus raak vir ’n tiep nie.

As mens hierdie viertal se verrassende vars aanslag met ’n bekende kunstenaar móét vergelyk, sal dit beslis die legendariese prins Valiant wees. Orkez het egter ’n kitaarkas vol van hul eie, unieke skietgoed.
Op die opening van “Soektog” (oor ’n jonger generasie se stoeigeveg met identiteit) is daar dadelik so ’n ietsie van Led Zep. Folkrock loop van hier deur die tweede nommer, “Kobus de Lange,” en die latere “Sunnyside” en “Oud wees” (maar natuurlik nooit koud nie…) soos ’n raakgryp-rilling langs die hele CD se ruggraat af.

In die lied oor recce De Lange roer die kêrels orrelklanke by wat die oor dadelik herinner aan die Doors.
“Dit wat jy vra…” en “Die pontevaar” is suiwer jêm om die bek – hoe later hoe kwater met elemente van onder meer punk, soul en die 70’ers se disco.

Op eersgenoemde trek Orkez op ’n slinkse manier verwysings na treffers deur David Kramer en Sonja Heroldt by. “Die pontevaar” skoor oor die “gravy train,” swart bemagtiging, knus loopbane, grade gekoop op die swartmark en die belang van “konneksies.”

Die titelsnit self is een van die heel bestes: ’n lied wat wonder hoe sterk die konsep “volk en vaderland” nog in siele spook, en uiteindelik met ’n onheilspellende, militêre tromroffel uitloop.

“Sunnyside” spring weg met ’n township-riel om die groot kloof tussen die verskillende wêrelde in Suid-Afrika aan die oor te knoop. Luister beslis hier na David Saunders se vuurwarm kitaarsolo.

“Medisyne” open soos “Soektog” weer met Zeppelin-agtige werk op die akoestiese kitaar. Dié ballade vertel van blou-oog Annie en haar pogings om met dwelms uit die “hartseer kontrei” te ontsnap.

Op “Vir jou” en die slotnommer “Sien jou weer” skuif die liefde op die tematiese voorgrond.

Orkez skryf slim, poëtiese lirieke wat kan saampraat met rock uit dié opstandstyl se blinkste dekades. En hulle het die musiekvernuf wat hul boodskap soos ’n blink lem diep tussen die ribbes indryf.

Werklik uitzonderlik.

• Orkez is Johan “Zietz” Zietsman (voorsanger en akoestiese kitaar), David Saunders (elektriese kitaar), die bekende Barrie van Zyl agter die ritmeskottels en Henk Saunders (baskitaar). Kenny McLellan het nog die bassnare gepluk toe In opsomming opgeneem is.

 

   
   
   
     
Beeld / Jip 31 Julie 06
 
   
   

Wortel Strydom
 
Waarvoor staan die “z” in Orkez?
 
“Dit was ’n hengse lang proses om ’n naam te kies,” sê Ziets, met sy een hand om die steel van sy tweede Long Island Ice Tea. Ons sit in ’n News Cafe, ek drink ’n mout, Barrie sluk ook aan een van die Long Island-outjies.
 
“Iemand in die band, dalk David, het gesê ons moet sommer gaan vir ‘Orkes’,” verduidelik Ziets. Barrie was die een wat voorgestel het hulle moet die “s” in ’n “z” verander. Dit steek toe vas.
 
Hulle wou ’n naam hê wat alles behalwe preuts is, maar darem ook nie té alternatief nie. Orkez se idee oor Suid-Afrikaanse musiek is ook só: effens alternatief.
 
“Ek weet nie eens hoe lyk ’n byeboerwa nie,” sê Ziets.
 
Die meeste van die mense wat Afrikaanse CD’s koop, sê hy, kan deesdae glad nie meer identifiseer met die dinge waaroor gesing word nie. “Hoeveel van ons hét ’n ou ryperd? En wie moet nou nog ’n dagreis aflê om by die bure se dogter te gaan kuier?”
 
Orkez sê hulle is “die vars asem in Afrikaanse musiek” en daarom sing die band oor vandag se issues : yuppies en regstellende aksie en jong mense wat Londen toe gaan, daardie tipe ding.
 
Hul klank is ook vars.
 
Ziets se sangstem skuur tot binne jou onderbewussyn en die band handhaaf ’n stywe ritme vol passie. “Lekker klipgooi-musiek,” noem die band hul styl, of “funkfolkrockblues”.
 
Orkez se jongste musiekvideo Pontevaar, wat verlede week op MK89 begin draai het, gaan juis oor die soeke na geld en die verganklikheid daarvan om ’n yuppie en ’n mover-en-shaker in Jo’burg te wees. Dinge kan baie skielik omswaai, sê die liedjie tussen die lyne. Waar dit so 25 jaar gelede baie smart was om in ’n penthouse in die Ponte-gebou in Berea/Hillbrow te bly, is dit nou glad nie meer so lekker nie.
 
Barrie van Zyl en Johan Zietsman (Ziets) speel van Januarie verlede jaar saam met die Saunders-broers, David en Henk, in Orkez. Die twee broers het vroeër in ’n death metal band gespeel, “ ’n invloed wat nou nog soms agter die gordyn uitloer”.
 
Dit was hoeka ’n video op MK wat my aandag ’n paar maande gelede getrek het. “Oud-wees” is nogal ’n catchy liedjie wat só gereeld gespeel het dat ek toe dink ’n mens moet bietjie ondersoek instel.
 
Die band het op die video na ’n klomp lekker ouens gelyk, ge- suit en ge- tie en heel retro.
 
Ek Google toe die woord “orkez” en behalwe ’n paar obskure Spaanse webblaaie, spring daar toe ’n .co.za-site en twee kontaknommers uit.
 
’n Week later sit ons en praat oor gewigtige sake soos plaaslike musiek en of ek nog ’n bier wil hê of eerder ook ’n ystee met skop.
 
Hul eerste album, In opsomming, sal van begin Augustus op die rakke wees, en Orkez het al klaar planne vir die tweede een. “ ’n Band se tweede album is mos altyd meer mature,” sê Ziets terwyl Barrie sy kop instemmend knik. Orkez het nou meer gezone op wat hulle wil doen, en hulle is besig om te fokus op “ander aspekte as waaraan ’n mens in Suid-Afrika gewoond is”. Ziets se oë glinster wanneer hy ’n scenario skets wat soos ’n plaaslike weergawe van die Pink Floyd-skouspel The wall klink.
 
Orkez hou van die 1970’s. Dis die era se musiek wat Afrikaans eintlik misgeloop het. Daardie dae toe sensuur se greep styf en amper alles ­– wat uitheems geklink het – taboe was. Ligte Afrikaanse musiek ( cheesy liedjies oor selfs meer cheesy onderwerpe) het gefloreer toe die res van die wêreld in hul garages aan die sterk kitaarwerk van Led Zeppelin en Deep Purple geoefen het.
 
“Die probleem is dat ons vir meer as 30 jaar nie geweet het hoe om ons uit te druk nie,” meen Ziets. “Afrikaanse musiek kom deur ’n tyd waar ons volkseie denke abuse is.”
 
Daar is egter hoop. Hulle praat met lof van Klopjag en Fokofpolisiekar wat deel is van ’n nuwe post-Voëlvrygolf van Afrikaanse musiek. “Enigeen wat sy eie woorde en melodieë skryf,” sê Ziets, is deel daarvan.
 
Toe die Long Islands begin leeg raak vra Barrie: “Hoeveel mense weet wie Larry Mullen jr. is?”
 
Ons het begin praat oor hoe ver Orkez met hul musiek wil gaan. Ek wou weet of hulle gelukkig sal wees as die hele land hul name ken, wanneer groupies hulle oral rondvolg en die geld net aanhou inrol.
 
Larry Mullen is natuurlik ’n drummer, maar nie ’n naam wat elke ou onmiddellik met een van die suksesvolste bands van ons tyd assosieer nie. Sy naam vervaag wanneer dit teen die veel groter en bekender naam van sy band – U2 – gemeet word.
 
Ziets en Barrie sê so half deurmekaar en saam: “Ons is vier gewone ouens, met vier gewone voltydse werke. Ons is nie friekin’ glamrock wannabes nie. Ons wil net goeie musiek maak vir mense wat dit kan waardeer. Afrikaanse rock wat luisterbaar is.”

   
   
   
     
 
   
     

 
HOME  |  NUUS  |  BIOGRAFIE  |  GIGS  |  FOTO'S  |  DOWNLOAD  |  SE JOU SE  |  KOOP